Share This Post

Google for Education: ‘n Waardevolle hulpmiddel vir jou klaskamer

Google for Education: ‘n Waardevolle hulpmiddel vir jou klaskamer

Dit maak nie saak op watter vlak, vak of ouderdom jy onderrig nie, Google kan jou lewe as onderwyser baie makliker maak. Dit dra nie net by tot effektiewe onderrig nie, maar hou al jou dokumente in een veilige plek en is altyd beskikbaar. Google kan vir jouself, jou leerders en selfs die ouers ‘n baie handige hulpbron wees om skool meer georganiseerd, prettig en opbouend te maak.

Google for Education is ‘n afdeling van Google wat spesifiek vir onderwys ontwikkel is. Dit is (on)gelukkig ‘n realiteit dat ons leerders Tegnologies gevorderd is op ‘n vlak wat ons ore kan aansit. Dit is daarom belangrik om ons kinders te onderrig op ‘n vlak wat hulle verstaan, wat hulle interesseer en wat hulle gaan uitdaag. Google maak hierdie taak vir ons baie maklik. Die goeie nuus is dat Google op enige toestel beskikbaar is wat internet het. Dus het jy en jou leerders toegang op hulle slimfone, tablette en rekenaars.

Google Classroom is ‘n wonderlike skepping deur Google. Jy skep jou klasse op hierdie platform, voeg jou leerders by en dan is daar ‘n wêreld van verskillende moontlikhede wat vir jou oopgemaak word. Jy kan al die klas se belangrike datums, take met sperdatums, enige notas en take in die vouer sit. Jou leerders kan ook take inhandig op Google Classroom. Daar is totale beheer deur die opvoeder – die onderwerpe word netjies gelys en jy kan duidelik sien wie die werk reeds voltooi het en wat nog voorlê. Jy het ook die opsie om kommentaar te lewer waarop die leerders weer kan reageer indien hulle wou. Binne-in hierdie “klaskamer” kan jy dan verskeie tipe dokumente plaas wat interaktief is, of indien jy sou wou, kan jy ook PDF’s plaas wat dan deur die leerders afgelaai kan word op hulle eie rekenaars.

Om die verskillende tipe dokumente te verstaan wat in Google Classroom kan kom, is dit belangrik om eers Google Drive te verstaan. Google Drive is ‘n aanlyn stoorspasie soos ‘n USB-stokkie of dropbox (waar jy 15GB spasie verniet kry) waar jy alles kan stoor soos wat jy op jou rekenaar sou doen – sonder die vrees dat die hardeskyf gaan oppak en jy alles verloor. Jy het ook die opsie om vouertjies of leêrs met mense te deel dat hulle ook toegang het daarna. Alles op Google Drive word outomaties gestoor soos jy daarop werk en daarom kan jy dit nie verloor nie.

Daar is vyf belangrike afdelings van Google Drive. Google Sheets is die plek waar jy al jou puntelyste kan doen en ook enige iets anders wat jy in Excel sou doen. ‘n Skool kan byvoorbeeld ook een Sheet-dokument gebruik wat met al die opvoeders gedeel is om die afwesighede aan te dui.

Jy kry ook Google Docs wat ‘n ekwivalent is van MS Word. ‘n Groot voordeel is dat jy die dokument kan deel met ander mense en saam op die “live” dokument werk. Byvoorbeeld: Jy skep ‘n dokument waar jy ‘n gedig bespreek. Die leerders kan hulle eie sienings byvoeg, vrae vra, die inligting opsom en jy kan die antwoorde daarop plaas. Op die ou end het jy een dokument met ‘n volledige opsomming van die werk wat bespreek is.

Slides is waar jy al jou voorleggings maak. Jy kan min of meer alles doen soos op PowerPoint en jy kan selfs skakels insit wat jy maklik kan volg na webtuistes en video’s op die internet. Omdat hierdie afdelings deur Google self geskep is, is daar natuurlik ook duisende (meestal gratis) template op die internet wat jy kan gebruik om jou werk interessant en kreatief te maak.

Die laaste afdeling is Google Forms. Hier kan jy op ‘n eenvoudige manier vorms maak wat dan deur leerders, onderwysers of selfs ouers ingevul kan word. Die data word dan in ‘n maklik-verstaanbare manier in Sheets vir jou bymekaargemaak. Jy kan enige iets met hierdie vorms doen: van meningsopnames tot toetse en selfs toestemming van ouers om hul kinders saam met jou op ‘n uitstappie te neem! Jy kan selfs ook ‘n “self marking quiz” maak wat self jou leerders se antwoorde merk en dan die resultate in Google Classroom bekendmaak.

Hierdie is vyf pilare van Google Drive wat werklik kan bydra om jou lewe te vergemaklik. En as al hierdie ongelooflike aspekte jou nou nog nie opgewonde gemaak het nie, of as jy net so ‘n bietjie senuweeagtig is oor alles en nie weet waar om te begin nie – daar is nog verdere goeie nuus! Google for Education het ook ‘n Training Centre. In hierdie Training Centre is gratis lesse om onderwysers te leer hoe om Google in die klaskamer te gebruik met video’s, leesstukke en vrae. Dit is nie net vir die onnies wat nou Google vir die eerste keer gebruik nie, daar is ook ‘n kursus vir die meer gevorderde onderwysers.

Google is ‘n maklike en gratis hulpbron wat elke onderwyser behoort te gebruik. Dit is nie net die maklikste manier om inligting te bekom nie, maar ook ‘n effektiewe manier om data veilig en georganiseerd te hou. Dit is toeganklik en altyd beskikbaar. Wat is dan nou makliker as om punte op jou slimfoon in te tik terwyl jy in die dokter se spreekkamer sit en wag? Weg is die verskoning dat werk by die huis vergeet is of dat niemand ooit vir my van die taak gesê het nie!

Van bloot ‘n feit te “Google” of Google tot sy optimale potensiaal te benut – Google is ‘n hulpbron wat elke onnie se werk vergemaklik!

Kyk hierdie twee video’tjies om ‘n kort oorsig van Google for Education te kry!

Share This Post

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.